2010-wyndruiwe oes - in alle distrikte kleiner as in 2009, behalwe Oranjerivier

11 DESEMBER 2009 - PERSVERKLARING

Die 2010-wyndruiwe-oes behoort 1 319 246 ton te beloop, volgens die bedryf (produsentekelders en

wingerdkonsultante) se oesskatting van 27 November 2009. Dit verteenwoordig 'n afname van 0.8 persent

op die 2009-oes. Na verwagting sal die 2010-wynoes, sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes,

wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit, 1 006,6 miljoen liter beloop, bereken teen ‘n gemiddelde

verhaling van 763 liter per ton druiwe.

Daar word in slegs een wynstreek 'n groter oes as in 2009 geskat, naamlik in die Oranjerivier-streek. Die

skatting van 'n 30% groter oes vir 2010 in die streek word aan 'n baie gunstige seisoen tot dusver

toegeskryf. Dit moet egter ook gesien word teen die baie klein 2009-oes toe dit ongeveer 31% laer as in

2008 was.

In al die ander wynstreke word die oes egter ligter geskat in 'n lente- en vroeë somerseisoen wat deur

produsente en wingerdboukundiges as uitdagend beskryf word. 'n Laat winter het ongelyke bot en in

sommige gevalle vertraagde bot veroorsaak. Weens gereelde reënbuie en by tye ook swaar neerslae tot in

November moes produsente goeie en intensiewe beheerprogramme volg, desondanks word oesverliese

weens donsskimmel wyd gerapporteer. Die oïdium-druk is ook tans hoog en plae soos kalanders,

krompokkels, slakke, ens. het voorgekom. By twee geleenthede was 'n stormsterk swart suidoos en

noordwestewind verantwoordelik vir skade aan wingerde. Koue en winderige toestande in die blom- en

setperiode het tot ongelyke en swak set aanleiding gegee.

Nog 'n rede vir die verwagte oes-afname is die feit dat die totale wingerdstand sedert 2006 met 821 ha

afgeneem het.

Binnelandse verkope van natuurlike wyn vir die 12-maande periode November 2008 tot Oktober 2009 toon

dat die mark met 5.7 persent tot 295 miljoen liter gekrimp het, vergeleke met die ooreenstemmende

tydperk die vorige jaar. Brandewynverkope toon ‘n 8.8 persent daling gedurende dieselfde periode. Die

uitvoer van verpakte wyn toon groei van 9.4 persent, terwyl die uitvoer van grootmaatwyn met 20 persent

gedaal het.

Na verwagting sal die kombinasie van die ekonomiese insinking, wat tot ‘n daling in verkope lei, en die

wêreld sokkertoernooi, wat verkope behoort te laat styg, tot gevolg hê dat binnelandse verkope van beide

wyn en brandewyn in 2010 min of meer sal stagneer.

Die sterk wisselkoers, die ekonomiese warboel in Suid-Afrika se hoof uitvoermarkte, die niewinsgewendheid

van ons wyne in ‘n sleutelmark soos die VK en die beskikbaarheid van die produk gaan ‘n

bepalende faktor in die uitvoer van wyn speel en maak enige vooruitskatting haas onmoontlik.

Die voorraadvlak op 31 Desember 2010 by produsente- en privaatkelders sal na raming tot 296.2 miljoen

liter daal, vergeleke met 336.4 miljoen liter op 31 Desember 2009.

Vir verdere navrae skakel gerus vir Yvette van der Merwe (tel 021-807 5703, faks 021-807 6000, e-pos

yvette@sawis.co.za).

YVETTE VAN DER MERWE

UITVOERENDE BESTUURDER